Roomwit rose vir stukkende harte

Dis weelderig-winters, ironies blou en sonnig en stralend vir ‘n Kaapklimaat, met hemelse klavierklanke wat uit die cd-spelertjie in die slaapkamer teen die trap afgewentel kom. My binneste jubel saggies. Soos dit hoort. Want vreugde lê nie en wag in die ontvouende geskiedenis rondom my nie, en Paulus het dit toentertyd al geweet. En dit gesê, waarskynlik oorspronklik in Grieks. Maar saam met die blywees wat uit ongekende fonteine opwel, lê daar vlak reeds dae lank ‘n stuk deernis wat aan seer grens. Die vroue na wie my hart uitreik en vir wie dit huil, kon ek gewees het. So maklik.

In die naweek het ek hoopvol en hooploos saam met tientalle ander oor rotse geklouter teenaan die hoogwaterbranders wat selfs met die laagwater bruis en dawer: turende en soekende in die sloepe en selfs in die deinings – na énigiets waaraan klein Louise Fowler geëien sou kon word. Sedert sy Vrydagmiddag in die skuimende water verdwyn het, is net een of twee kledingstukkies gevind. Vandag is Maandag… Die soektog duur voort. Maar die vraag wat spook en spook, is hóé die lewe hoegenaamd intussen kan voortgaan vir ‘n ma en ‘n pa en ‘n sussie wat dáár was toe die see haar ingetrek het? Dit is ondenkbaar en onsêbaar.

Hóé moet ‘n mens opstaan en voortstrompel? Die een oomblik is jy sorgvry en uitgelate saam met jou drie kosbaarstes op die rotse voor die karaktervolle strandhuis teenaan die see; en die volgende oomblik word jou hart uit jou borskas geruk met ‘n geweld waarvoor die woordeskat ontbreek. O, diepste van alle dieptes! Donkerste van alle donkertes!

Eie krag sal nooit werk nie, dit wéét ek; want ek ken moederskap intiem. Soos Kim Fowler. Soos Christa Venter. Soos elke vrou wat ‘n kind onder haar hart gedra het.

My dogter was ook in háár kindwees teer en broos, glimlaggend en ontvanklik soos die sewejarige Louise in haar skooldrag op die foto’tjie.

Vreesloos broos

Dis soos gister. Sy is steeds kwesbaar en fyn, dog sterk en oortuig in haar skoene as joernalis wat weë baan. Soos Suna Venter was, en so oud soos sy was.

‘n Jong vrou wat saam met talle vasstaners in die mediadomein haar sê bly sê het, met ‘n ander soort visie en oortuiging as dié wat dit nie kon verdra nie en met die wil om dit tot elke prys nie te versaak nie, het ‘n verskriklike prys betaal.

Soos my dogter my fyngoudskat is, so was sy Christa s’n. Die pyl wat uit haar boog geskiet is, wat ver en sekuur getrek het. Wat siklone en orkane getrotseer het… tot verby breekpunt.

Al wat ek vandag vir jou het, Christa – en vir jou, Kim – is die allerfynste wit rosies wat hier voor my in ‘n glashouer staan. Ragfyn, rein, sterk, regop, wondermooi… die versinnebeelding van verganklikheid, maar ook van ewigheidswaarde.

Want nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie. Die grootste is maar liefde.

Roomwit rose

 

 

 

 

Advertisements

6 thoughts on “Roomwit rose vir stukkende harte

  1. Ai Lisel, my hart is ook stukkend! Hoe gaan n mens aan met jou lewe? Ju het dit so mooi verwoord. Liefde vir julle en koester jou kinders

    Sent from my Samsung Galaxy smartphone.

    • Ja Gerard… en daar is ‘n ironiese sekerheid dat, hoe graag ons soms die tyd en branders ook al wi laat wag, hulle sal aanhou kom en kom.

  2. My friend who lost her only son at age 17, eight years ago, pours her sorrow into the bowls of love her friends and Life try to offer to her for the rivers of her on-going grief – to this day. She keeps calling… We cherish, we hold you tight…and dearest children who are here with us, we LOVE you….LOVE you!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s