die pers en wit van mymering

(vir Pappa – op 21 November 2015, die 84ste herdenking van sy geboortedag)

gister, vandag & more…

die driekleur-fyngeur van pers onthou en wit behou

by ’n venster van ’n huis

vol harte en hande en heimwee:

kinderstemme soos in ’n droom

kersliggies, die towergeur van ’n denneboom

die varsgeur van bloekomboom op bloekomboom

die skietpyn van ’n by wat skuil in ’n pers blom…

nee, ’n towertapyt van pers blom op pers blom

gestort van die ruwe takke van ’n uitlandse boom

in die middel van die edentuin aan die soom

van die dorpie van drome

daar ver in eens-op-’n-tyd se transvaal.

te ver nou, vir ons, vir my en jou

maar nie vir pers en wit onthou en behou

van lagtye  saamtye  huiltye  tuistye  toertye  onstye  singtye  speeltye…

van die kennelik klinkklare hartsnaarklank

van ons kerkklok hoog bo die plataanboomsoom

en die ossewa-onthouplek

knus langs die stoer-trots sandsteengestalte

in die hart van ons dorp: destyds nog genoem na ’n held

van die Trek…

sonbesiesomers en naguilnagte; tarentaalskemeraande en rooivlagtreinoggende

die piet-my-vrou: koning van kleintyd-klanke

die gerunnik van perde en die kraak van saals

die kletterklop en blêr en bulk

van bees en skaap wat trek

’n sweep wat klap en keer

zulustem wat fluit en beheer

die feesmaalvolheid van gesinwees

in ons tombana-eden met uitbundige bloeiselboom in die hoek…

terras met die bloureën-persreënlint

wat ons en voorouers bind

koejawelboom digby die ewige rots

vensters wat blink en varslug verslind

omgee en liefde en wysheid en waarheid

so na die hart van kind op kind…

oorvloedig! Here, hoe blymoedig maak U my die hart!

hoe vrymoedig die hardloop met arms uitgestrek

na ’n vaderland van blousaffiere

’n brokkelplekkie in die son

’n ‘onthou-Pa?’-plek

Die gryp na die soom

van ’n ‘favourite things’ vir altyd-droom…

Advertisements

5 thoughts on “die pers en wit van mymering

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s