Niemand soos hy nie

20141031_104819-1_resized

Dit is die maand November.

Albei van ons se verjaarsdagmaand. Ons geboortedatums vyf dae uit mekaar. En 24 jaar. Dit voel onwerklik dat ek oor ‘n paar dae 59 jaar oud sal wees; en enkele dae daarna – hy 83.

Hy was midde-in voorbereidings vir ‘n allerbelangrike eksamen toe ek my opwagting gemaak het. Daardie betrokke eksamen het nie afgeloop soos dit moes nie en ek het al dikwels gewonder of ek by implikasie skuldig is. Ek voel nog altyd ‘n bietjie skuldig. Dinge kon dalk heel anders verloop het.

Ek wonder of die jakarandas nog geblom het daardie maand in 1955? Ag dit maak ook nie saak nie. Die belangrikste was dat twee van hulle toe drie van ons geword het. Ek wonder hoe dit regtig vir hulle was…. Menige staaltjies en grepe uit my eerste lewensjaar is my al vertel en ek wil my al verbeel die groot(?) plastiek-eend(jie) wat saam met my gebad het, is een van my onderbewuste geheueprentjies. Of dit moontlik is, weet ek nie. Dit was ‘n wit eend, weet ek. En fassinerend.

Dit kon nie alte maklik gewees het nie – vir ‘n 21-jarige en ‘n 24-jarige om in alle erns met ‘n opvoedingstaak te begin… Hy was ‘n uithaler-gimnas; ‘n provinsiale rugbyspeler; ‘n gewese koshuisvoorsitter. Sy loopbaan het gewink. Hare ook; maar sy het gekies om my met haar eie hande te versorg.

Ek twyfel of hulle destyds besef het dat hulle byna veertig jaar lank betrokke sou bly by ‘n aaneenlopende en herhalende opvoedingsmissie waarby ek en die nege na my – wat van ons driemanskap ‘n dosyn gemaak het – so merkwaardig baatgevind het. Hy kon darem die afgelope twintig jaar spreekwoordelik terugstaan en sy handewerk in oënskou neem; die vrugte daarvan pluk? Sy nie. Sy kon nooit terugstaan en sê ‘so ja; hierdie lewenstaak is afgehandel’ nie. Sy moes gaan. So gou. Dankie tog dat hy gebly het.

NOVEMBER 2014

In die afgelope tyd het ek meer as een keer vererende huldeblyke van kinders aan pa’s gelees en gehoor. November 2014 is eweneens vir my ‘n gepaste tyd om opnuut weer so te maak met my pa. Wat wonderlik is, is dat ek hom in die oë kan kyk wanneer ek hom vertel – nie vir die eerste keer nie – dat ek in byna ses dekades nog bitter min mense van sy kaliber teëgekom het.

Die enkele woord wat ek waarskynlik die meeste met hom vereenselwig, is ‘integriteit’. Dit is moontlik my gunsteling woord ooit. Of liewer my gunsteling begrip. Dit sê… alles.

My pa is ‘n man van integriteit. Hy was dit nog altyd. Hy adem dit. Hy straal dit uit.

Met sy loopraam en met Marie aan sy sy het hy onlangs ‘n matriekreünie op pleitende uitnodiging bygewoon – van ‘n groep mans en vroue wat 50 jaar gelede reeds klaargemaak het met skool; wat intussen klinkende suksesse behaal het op hul onderskeie lewenspaaie; en wat hom daar by hulle wou hê om te kan sê dankie. “Vir wat Meneer vir ons beteken het.” “Vir die bepalende rol wat Meneer in my lewe gespeel het.”

Pa, het jy ‘n beter getuienis nodig van wie en wat jy is? En nog altyd was?

Ek en jy, Pa, het 18 jaar gelede – toe ek skaars veertig jaar oud was – in ‘n soort doodloopstraatjie beland. ‘n Soort laagtepunt bereik. Miskien het jy dit nie so ervaar nie. Maar ons verhouding was seer. Gewond. Dit was tussen ons: ek het jou in die steek gelaat toe jy wou hê ek moet verstaan. En ‘groot’ wees. Maar terselfdertyd het jou toorn en skynbare onbegrip my geknou. Erg. Ek het nie geweet of ons daarvan sou herstel nie.

Maar genade is groot. En geloof. En Pa, jou gees is so groot. Jou mentorskap het die toets van die tyd deurstaan. Jou vaderskap ook. Jou leierskap. Jou innerlike krag. Jou liefde. Jou omgee. En myne vir jou. My waardering en bewondering. My heldeverering.

Die skeidslyn tussen waas en werklikheid is baie dun en eintlik onbenullig. Want as jy my in daardie bekende stemtoon van al die jare steeds aanspreek as ‘ my poppie’, dan breek die somerson van 1955 in die jakarandastad helder deur, en weerklink die raadgewing, riglyne, teregwysings, vertroostings, bemoedigings en gerusstellinge so duidelik soos gister.

Dan is jy weer 24. En ek jou splinternuwe dogtertjie.

 

Advertisements

7 thoughts on “Niemand soos hy nie

  1. Liefde oorwin alles! Jou ouers se nalatenskap is so geweldig groot, ‘n mens kan sê dit is die land vol! Jou Pa het ‘n voorbeeld gestel wat bitter moeilik geewenaar kan word, maar altyd die moeite werd is om na te volg.

  2. Dankie Lisel vir diep woorde. Nou verlang ek so na my pa. Ons kon vir ure in mekaar se geselskap sit, sonder om te praat. So ingestem op mekaar. En skielik spring daar vir my ook ‘n eendjie in my bad op! Dankie.

  3. Wat ʼn pragtige huldeblyk, dankie dat jy dit gestuur het, Lisel!

    By voorbaat ook geluk met jou 59 jaar – ek wens jou/julle net die allermooiste toe vir die toekoms!

    (Terloops, my ousus, Ilonka, se man, Helgaard, is in Oktober oorlede na ʼn string terugslae in die hospitaal. Hy was veronderstel om net 5 dae in intensief te wees na ʼn mondoperasie om ʼn kanker te verwyder, maar toe is dit eers ʼn bloedklont in die been, dubbele longontsteking en oplaas ʼn erge virale infeksie wat sy longe heeltemal laat platval het. Ons harte is stukkend: hy was so ʼn gesonde en lewenslustige 75!) Dit maak mens opnuut onrustig oor die stand van nasorg in ons hospitale…en dié was nogal die voorste Kloof Mediclinic!

    Liefdegroete

    Wilma

    • Ai Wilma…. ek was so hartseer toe ek jou boodskappie lees: dis hartverskeurend. So, so jammer!
      Dankie vir jou ‘kind words’ oor my blog-inskrywing. Ja, dis maar woorde wat op my hart gelê het en wat ek wou neerpen. Vir hom om te sien en ter harte te neem.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s