‘n Patriarg groet

Vir elke laaste asemteug moes hy veg. Soos ‘n uitgeputte marathonatleet, het sy oudste kleinseun later opgemerk.

Rondom sy sterfbed was drie geslagte om op 16 Junie 2013 ‘n waardige kryger te groet.

(Skoon-)Pa Krige, jy het wel gedaan. Ek weet rus en vrede en volmaaktheid sal voortaan en ewiglik  jou deel wees. En vreugde.

Nie dat laasgenoemde hier op aarde tussen ons vir jou vreemd was nie. Inteendeel! Geen wonder nie, dat jou intiemste geliefdes dit ingeweef  in jou afskeidsgroet wou hê. ‘Isaac – child of laughter’: jou lag, Pa Krige, is een van die mees uitstaande kenmerke wat onthou sal word, ook deur diegene wat jou minder goed geken het, maar wie se paadjies joune gekruis het. Selfs jou tweede naam en die een waarop jy genoem is, ‘Marius’ – wat in Latyn ‘man’ en in Roemeens ‘hamer’ beteken, maak die prentjie van wie jy was en sal voortgaan om te wees, meer volledig.

Byna nege dekades lank het jy voluit geleef. Geleenthede ten volle benut. Daarom dat jy daar vanuit jou hospitaalbed angstig verneem het of iemand omsien na jou groentetuin. Totdat jy dit weer self kan doen… Jy hoop om ‘volgende week’ tuis te wees, het jy nog in die laaste dag of twee gesê.

‘n Huis sonder ‘n pa

Terwyl ons in die dae na Pa se heel laaste Vadersdag daar by jul Victoriaanse huis op Heidelberg saam met Ma en die ander naaste familie vertoef het, het ek opgemerk dat Lukas takies verrig wat waarskynlik voorheen in Pa se selfopgestelde pligbeskrywing gelys was. Daar was iets stil en eerbiedig aan sy liggaamstaal. Sy teenwoordigheid en bewegings gerusstellend. Tussen hom en Selina (én Ma, wat selfs in die eerste eensame ure daarop aangedring het om kop omhoog te hou en ‘normaal’ te bly funksioneer) gaan die lewe op ‘n manier voort by Pretoriusstraat 69. Die plante kry water, die voëltjies kry kos en teen laatmiddag word die antrasietstofie in jul sitkamer aan die brand gemaak. Ek het net opgemerk dat die houer met wandelstokke nou ietwat nutteloos daar uitsien. Uitgedien. (Terloops – het Pa geweet die hek by die straat se insteekslot is op die koffie?)

Selina is ook bedroef. Sy het gemeen Pa sal weer huis toe kom… Ma ook. Maar ook nie. Sy het dit ‘n paar dae voor die einde van jou pad op aarde hardop gesê: sy weet jy kan sterf. Julle was langer saam as wat verreweg die meeste ander egpare beskore is; en dit beteken dat Ma Krige nou, nadat sy driekwart van haar lang leeftyd tot dusver aan jou sy was, as alleenloper moet voortgaan. Voortbeur. Sy sal. Want julle Kriges (hoewel sy eintlik ‘n Du Toit is…) is ‘n anderste klompie. Julle weet van onverstoorbaar wees, van voortbeur, van kophou. Julle laat julle nie van stryk bring nie.

Maar jou dood, Pa, het ‘n kwesbaarheid in jou vier kinders na vore gebring wat ek selde indien ooit vantevore beleef het. Daar was ‘n ongekende verslaentheid – want dit kan mos eintlik nie wees nie. Hoe kon hulle taai pa net ophou asemhaal? Jou dogter, so dikwels jou ander maat in die alledaagse handel en wandel met blokraaisels, die seëlklub, jul uitstappies en talle ander dinge – sy gaan jou erg mis. Jou seuns se huldeblyke het gestraal van heldeverering, agting, waardering en – les bes – humor. Hulle het so baie by jou geleer. En het soos een man die fakkel wat jy uiteindelik moes aangee, oorgeneem. Jou nalatenskap leef veelvoudig voort!

Vir my

Ek is nie ‘n vlees-en-bloed Krige nie.  Maar darem al byna 35 jaar in jul dampkring. Ek dink Pa sal vir my altyd uitstaan as die mens met die wydste algemene kennis van almal wat ek al teëgekom het. ‘n Saluut werd.

En hoewel jy soms kwaai was met my, het ons talle oomblikke van humor gedeel. En van onderlinge begrip.

Jou lag, Pa Krige, was inderdaad sekerlik een van jou kenmerkendste en aantreklikste eienskappe: hartlik, aansteeklik, uitbundig. En die lekkerste van alles was dat dit nie moeilik was om jou aan die lag te kry nie…

Saam met my eie ma en talle ander dierbares het jy nou vooruitgegaan. Ons paadjies sal hul eie draaie loop, maar sal oplaas dieselfde uiteinde hê

Tot dan…

Lisel.

Advertisements

One thought on “‘n Patriarg groet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s